
Viswanathan Anand is die eerste skaak wêreldkampioen wat van Indië afkomstig is. Anand vertel hoe hy begin skaak speel het:
“Ek het begin toe ek ses jaar oud was. My ma het my geleer hoe om te speel. Sy het baie vir my skaakontwikkeling gedoen. Ons het later na die Filipyne getrek en daar was elke dag op TV ‘n program oor skaak. My ma het al die probleme wat hulle op TV gewys het neergeskryf en dan het ek in die aande al die probleme saam met my ma probeer oplos.
Ek en my ma het ons antwoorde ingestuur en dan het ons boeke gewen as pryse vir ons regte antwoorde. Ons het baie boeke op hierdie manier gewen. Later het hulle ons aangebied dat ons al die boeke kan kry wat ons wil hê, maar dat ons tog net nie meer ons antwoord hoef in te stuur nie!” Hy het wêreldkampioen geword in 2007 en is tans nog die huidige wêreldkampioen.
Anand se speelstyl en sterkpunte
Anand is bekend daarvoor dat hy baie vinnig kan dink en dat hy ook vinnig skuif. Meeste top skaakspelers dink gemiddeld 3 tot 4 minute per skuif, maar dit gebeur selde dat Anand langer as 1 minuut aan ‘n skuif dink.
Anand se sêgoed
Hier is ‘n paar interessante dinge wat Anand gesê het:
Voordat ek skaak speel, probeer ek my gedagtes skoon kry sodat ek kan fokus op my spel.
Selfvertroue is baie belangrik – selfs om voor te gee dat jy selfvertroue het is belangrik. Selfs al maak jy ‘n fout – as jy dit met selfvertroue doen is daar ‘n kans dat jou teenstander dalk jou fout sal miskyk.