
Smyslov was ‘n Russiese grootmeester wat leer skaak speel het toe hy 6 jaar oud was. Sy pa het baie belang gestel in skaak en het sy seun, Vasily, leer skaak speel. Later het sy pa vir hom ‘n skaakboek gegee wat deur Alekhine geskryf was. Smyslov was wêreldkampioen van 1957-1958.
Smyslov was ook ‘n bariton sanger wat graag in operas opgetree het. Hy het gesê: “My lewe het altyd gedraai om skaak en musiek.”
Smyslov se speelstyl en sterkpunte
Smyslov was besonders goed in die eindspel wanneer daar net ‘n paar stukke oor is. Meestal het sy spelle baie rustig voorgekom maar soms het hy ook onverwagte briljante taktiese skuiwe gemaak. Hy was baie lief vir musiek en het gesê dat selfs in skaak probeer hy altyd ‘n harmonie tussen sy stukke behou.
In 1957 het Smyslov ‘n kans gekry om vir Botvinnik suksesvol uit te daag vir die wêreldkampioen titel. ‘n Jaar later het Botvinnik eget weer vir Smyslov uitgedaag en die titel teruggewen.
Smyslov se sêgoed
Hier is ‘n paar interessante dinge wat Smyslov gesê het:
In my opininie behoort elke speler sy eie styl te ontwikkel en nie net ‘n sekere meester se styl na te maak nie.
Ten spyte van al die ontwikkeling in skaak is daar nog baie geheime wat ontdek moet word.
In skaak, soos in die lewe, is jy jou eie gevaarlikste teenstander.