LEKKERLEESSTORIE!
DIE SKAAKTOWENAAR VAN GROOTBOS!
Deur Oom LJ
Hier is ‘n lekkerleesstorie oor diere wat skaak speel!
Die boek is daarop gemik om ‘n belangstelling by jonger lesers aan te wakker vir die spel ‘skaak’. Dis ‘n ideale geskenk wat oupa en ouma aan die kleingoed kan skenk … vir lekker lees en sommer met ‘n goeie dosis opvoedkundige waarde sonder dat die leser dit agterkom!
Maar volwassenes lees net so lekker aan die storie, gewoonlik sonder om dit te erken natuurlik!
Dit is goeie en veilige leesstof vir die hele gesin!
Dit is nogal ‘n meneer van ‘n storie hoor! Altesaam 43 aksievolle hoofstukke! As ‘n voorsmakie, so lyk die Voorblad, Voorwoord en Hoofstuk 1:
VOORBLAD

VOORWOORD
Party mense glo mos diere kan nie skaak speel nie. As jý een van hulle is, hoor eers híérso…
Twee jong nuuskierige eekhorinkies kom onverwags af op veldwagters wat in die veld onder ‘n boom sit en ‘n bordspeletjie speel. Dáárdie dag het die eekhorinkies se lewensreis ‘n heeltemal ander rigting ingeslaan. Dit was die begin van ‘n opwindende en avontuurlike ervaring toe hulle die spel ‘skaak’ ontdek het.
Die eekhorinkies ontmoet ‘n verkleurmannetjie met ‘n verstommende kennis van skaak wat instem om hulle alles van die spel te vertel. Maar die verkleurmannetjie het ‘n misterieuse verlede en is blykbaar ‘n kroeker. So tussendeur hul ervaring om skaak van hom te leer, is die eekhorinkies ook gretig om uit te vind of hul leermeester regtig ‘n skelm speler is. In die loop van hul ondersoek kruis hul paaie met gevaarlike renosterstropers – met groot risiko vir hul eie veiligheid.
Elkie en sy sussie, Ebie, se skaakwedervaringe lei tot vele opwindende, leersame – en dikwels komiese – interaksie tussen die diere; in die veld sowel as oor die skaakbord. Dit bereik ‘n hoogtepunt toe hul kwalifiseer om aan die opwindende prestige Skaakkampioenskapstoernooi vir Diereskole deel te neem.
Die Skaaktowenaar van Grootbos is ‘n lighartige en aksievolle goedvoelstorie waar diere te doene kry met die spel ‘skaak’. Die storie is veral bedoel om die belangstelling van jong lesers vir die spel skaak aan te wakker – maar dit is eintlik ‘n leesplesiertjie vir die hele gesin!
Die storie bied ‘n volledige leeservaring, maar word ook ondersteun deur ‘n onafhanklike webtuiste wat inleidende lesse oor skaak bied. Dit is bedoel as ‘n bonus vir lesers wat deur die storie geïnspireer word om die vreugdes van skaak vir hulself te ontdek.
Lees gerus, en besluit dan maar vir jouself of jy steeds dink diere kan nie skaak speel nie!
HOOFSTUK 1 Die Land van Diere. Die Eekies.
Verafgeleë en uitgestrek, in die hart van die suide van die Afrika-kontinent, is ‘n land van ongelooflike, ongerepte natuurskoon. Dit is die Land van Diere, onaangeraak en onontdek deur mense, waar diere ongehinderd in hul eie land woon.
Reg langs die Land van Diere is daar wel ‘n dorpie waar mense woon, maar die inwoners van Mensedorp bewaar reeds vir eeue die geheim van die bestaan van hul buurland. Hulle rep nie ‘n woord daaroor vir die res van die wye wêreld nie. Dit is om die ongeskonde natuurskoon van die Land van Diere te beskerm.
In die Land van Diere het die diere verskeie dorpies gevestig. Kameelperddorp, waar die kameelperde woon, se dorpie is gevestig waar die bome baie hoog is. Dit is sodat die kameelperde nie so laag hoef te buk om die sappige blare by te kom nie. Krokodildorp, weer, is gevestig al langs die rivier – waar die krokodille lekker kan swem en op die rivierwalle in die son lê en bak. Die bokke bly waar die gras groen en welig is – in Bokkedorp.
En so is al die diere se dorpies waar dit hulle die beste pas.
Ten spyte van die rustigheid en natuurskoon, is daar tog soms onmin in die dierewêreld, en nie sonder rede nie. Die bokke is ontevrede omdat die leeus se dorp, Leeudorp, langs Bokkedorp is. Die bokke pak gewoonlik op en trek weg na ‘n veiliger plek, maar as hulle weer sien dan het die leeus al wéér reg langs hulle ingetrek! Hulle het al ‘n paar keer van hul voorbokke gestuur om daaroor by die leeus te gaan kla, maar daardie bokke het om een of ander rede nooit teruggekom nie. Die bokke bly maar ongelukkig oor die stand van sake, maar het tog op die ou end teësinnig aanvaar dat die leeus graag naby hulle wil woon.
Nog een van die dorpies in die Land van Diere is Eekiesdorp. Dis hier waar die eekhorinkies – hulle noem mekaar ‘eekies’ – woon.
Een dag, aan die begin van die skoolvakansie, speel twee jong eekies vrolik en opgeruimd rondom hul boomhuisie. Hulle geniet hulself gate uit terwyl hulle flink ronddartel en hulle stertjies kwistig rondswaai.
Naby die boomhuisie is daar ‘n pragtige welig uitgestrekte groen woud, bekend as ‘Die Grootbos van Afrika’.
Die eekies is Elkie en sy sussie, Ebie.
Elkie is ‘n jong, frisgeboude eekhorinkieseun. Hy is hoofseun van Laerskool Eekiesdorp. Elkie hou daarvan om dinge rustig te deurdink en is ‘n goeie planmaker. En hy is goed met judo ook.
Ebie is ‘n grootoog, donkeroog eekhorinkiemeisie. Sy het pragtige bolwangetjies wat selfs ronder is wanneer sy glimlag en haar twee skitterwit voortandjies wys. Sy het ‘n blink en sagte haredos. Te oulik! Ebie is spontaan en lewenslustig, en vriendelik met almal. Sy is baie lief vir gesels. Haar siening is om te sê wat in jou gedagtes opkom, sodra dit opkom; dis nie nodig om die ‘vooraf dinkery’ te oordoen nie! Maar Elkie het ‘n probleem met daardie siening en wanneer die gepratery te veel raak vir hom, sal hy onderlangs mompel: “Dit sal gaaf wees as jy nou en dan net ‘n bietjie míńńńder sal praat!” Ebie hou ook daarvan om rympies en liedjies op te maak, veral wanneer sy bly en opgewonde is!
Elkie glo sy sussie is baie slim, en hy is selfs trots daarop. Maar aangesien hy ‘n hele veertien maande en tien dae ouer is as sy, meen hy ook beterweterig sy moet darem sy lewenservaring respekteer. En soms wanneer dit lyk of sy dit vergeet, herinner hy haar met graagte daaraan dat lewenservaring ‘n gróót verskil maak.
Elkie en Ebie is goeie maats en speel graag saam. Elkie is gewoonlik manierlik teenoor sy sussie, selfs wanneer hy sy judo-gooie op haar oefen. Hy verras haar nou en dan met ‘n judogooi, veral wanneer hy sien dat sy dit glad nie verwag nie.
Elkie se gunsteling-judo-gooi is die een wat ‘ouchi-gari’ genoem word. Soms sal hy naby Ebie verbyloop en skielik ‘n ‘ouchi-gari’ kreet gee – en dan is Ebie, neus eerste, op pad grond toe. Maar so ‘n gawe boetie as wat hy is, vang hy haar weer net voor sy die grond tref en help haar sommer op ook. Dan stel hy haar ook altyd gerus en sê: “Onthou Sussie, ek bewys jou eintlik ‘n guns, nè! Die rede waarom ek al hierdie moeite met jou doen is net om jou waaksaamheid en selfverdediging op te knap. En hoe minder jy dit verwag, hoe groter is die guns, natuurlik!”
Wanneer die eekies buite rondom hul boomhuisie speel, maak hulle dikwels ‘n vinnige draai in Grootbos om van die heerlike vruggies en neute te eet. Hulle gaan gewoonlik nie té diep in die bos in nie, want Pa-eekie het hulle gewaarsku oor die gevare van die bos. “Veral aan die anderkant van Grootbos, daar na Renosterdorp se kant toe,” het Pa gesê.
Met verloop van tyd raak die eekies egter geleidelik al hoe minder versigtig. Hulle maak elke nou en dan hul draaie net so ‘n bietjie dieper die bos in. In hul agterkoppe wonder hulle of dit nou regtig nodig is om Pa se waarskuwing só ernstig op te neem. Wat kan nou eintlik skeefloop? wonder hulle.
Een gebeurtenisvolle dag dwaal die eekies juis al hoe verder en al hoe dieper Grootbos in – tot selfs aan die einde van die bos.
Toe hulle die einde van die bos bereik, kyk die eekies nuuskierig rond hoog vanuit die laaste ry bome. Voor hulle is daar ‘n rivierstroompie wat rustig kabbel-kabbel. Aan die anderkant van die stroompie is die bos minder ruig – dis meer uitgestrekte grasveld, minder bome. Baie rustig en vreedsaam. Wat kan dan nou hier verkeerd gaan? wonder hulle weer.
As jy nog wonder of die storie goedgenoeg is…
UITTREKSELS UIT ‘N OORSIGVERSLAG DEUR ‘N PROFESSIONELE MANUSKRIPBEOORDELAAR:
SA VRYSKUTSKRYWER • POSBUS 2553, KLERKSDORP, 2570
TEL: 074 296 3390 • FAKS: 086 651 7796
E-POS: admin@savryskutskrywer.co.za
BESTUURDER: LEONI BENGHIAT
Die styl is ideaal vir jong kinders. Dis lekker vinnig, op kinders se vlak, met genoeg aksie en oplossings wat enige kind geboei sal hou. Wie sou kon dink dat ‘n intellektuele spel soos skaak vir avonture ook kan sorg?
Ek is nie ‘n kind nie, maar die storie het mý enduit geboei!
Dit is uiters oorspronklik. As ‘n voormalige skoolskaakspeler kan ek in alle eerlikheid sê dis so jammer daar was nie so iets in my tyd nie.
KOOP E-boek

Om ‘n e-boek (PDF) van die storie af te laai teen R85, kliek op die skakel hieronder:
KOOP HARDE KOPIE/ë
As jy belangstel om ‘n harde kopie/ë van die storieboek (sagteband) te koop, Whatsapp net ‘STORIEBOEK’ na 0780909092.
Jy sal gou moontlik ‘n boodskap terug ontvang met al die inligting nodig om die bestelling af te skop. Aflewering behoort tussen 2 dae en 5 dae afgehandel te wees.
- Die koste is R170 vir eerste boek.
- R150 per boek vir daaropvolgende boeke.
- R120 posgeld (per bestelling van maks. 8 boeke).
D.w.s. die totale koste (posgeld ingesluit):
1 boek R290
2 boeke R440
3 boeke R590, ens.
Whatsapp ‘STORIEBOEK’ na 0780909092.