
Garry Kasparov word wyd beskryf as een van die beste skaakspelers ooit. Hy was net 22 jaar oud toe hy in 1985 wêreldkampioen geword het en het die titel vir 15 jaar behou! Hy was ook vir 21 jaar lank die hoogste gegradeerde skaakspeler in die wêreld. Hy is ook bekend as die eerste wêreldkampioen wat ‘n wedstryd teen ‘n skaakrekenaar verloor het (teen Deep Blue in 1997).
In maart 2005 het Kasparov afgetree en wy hom nou toe aan die Russiese politiek asook die bevordering van skaak as ‘n opvoedkundige hulpmiddel in skole. Hy het Suid-Afrika in 2011 en 2012 besoek juis om bewuswording van die spel in Suid-Afrika ook aan te help.
Kasparov se speelstyl en sterkpunte
Kasparov het ‘n aggresiewe speelstyl en was een van die eerste top spelers wat besonder goed was met posisionele opofferings. ‘n Posisionele opoffering is ‘n opoffering wat materiaal prysgee in ruil vir ‘n posisie waar jou stukke in besonder goeie posisies kan kom. Top spelers was van mening dat ‘n opoffering meestal nie ‘n goeie idee is nie, maar hulle het bygevoeg dat wanneer Kasparov ‘n opoffering teen jou maak is jy in groot moeilikheid!
Kasparov se sêgoed
Hier is ‘n paar interessante dinge wat Kasparov gesê het:
“Die grootste probleem wat ek sien in mense wat hul skaak wil verbeter, is dat hulle nie hul instink genoeg vertrou nie.”