Emanuel Lasker,1894–1921

Lasker speel skaak teen Frank Marshall – ook een van die beste spelers in daardie tyd-era.

Die Duitse skaakspeler, Emanuel Lasker, was 27 jaar lank wêreldkampioen! Hy het sy tyd-era heeltemal gedomineer as die sterkste skaakspeler. Vandag nog word hy gereken as een van die beste spelers ooit.

Voor Lasker se uitdaagwedstryd teen Steinitz in 1894 het Steinitz gesê dat hy vir Lasker maklik sou wen. Die wedstryd het egter nie so goed gegaan vir Steinitz nie en Lasker het die nuwe wêreldkampioen geword. Lasker was nie net bekend vir sy skaak nie, maar hy was ook ‘n beroemde wiskundige. Hy was wêreldkampioen van 1894 tot 1921.

Lasker se speelstyl en sterkpunte

Skaakspelers in Lasker se tyd het gesê hulle dink hy gebruik sielkundige tegnieke om sy teenstanders te wen! Hulle het selfs gedink dat hy soms aspris swakker skuiwe maak om sy teenstanders te verwar! Dit was egter nie die geval nie – hulle kon bloot net nie sy skuiwe verstaan nie omdat hy soveel beter was as meeste van sy teenstanders in daardie tyd.

Lasker se sêgoed

Hier is ‘n paar interessante dinge wat Lasker gesê het:

As jy ‘n goeie skuif sien, soek eers vir ‘n beter skuif.

As jy ‘n skildery bestudeer sal dit jou nie ‘n beter skilder maak nie; as jy na musiek luister sal dit jou nie ‘n beter musikant maak nie – maar jy sal wel ‘n beter beoordeelaar van skilderye en musiek word. Skaak is anders, as jy die spelle van top spelers bestudeer sal jy verseker ‘n beter speler word.